Sunday 21 April 2019

Sorgvrye drenteldraaie op Europa se ompaaie


Hallo, my naam is Allan Barnard: 58-jarige afgetrede radio omroeper en restauranteienaar op Riebeek Kasteel. Ek het na 30 jaar in die uitsaaibedryf, waarvan onder meer 17 jaar in die gasvryheidsbedryf, besluit om vir 'n jaar of drie te doen wat ek die graagste wil doen: om te drentelreis deur Europa in ‘n kampwa.

Hierdie is 'n uitnodiging aan jou om 'n klein maar onvergeetlike deel hiervan saam met my te beleef, en jou reaksie sal help bepaal watter roetes om te neem.  My plan is om in 2019 'n kampwa (campervan) en karavaan in Duitsland aan te skaf en die ompaaie van Europa aan te vat, waarheen hul ookal lei. Die idee om mede-reisigers met 'n soortgelyke droom saam te nooi om te deel in die ervaring is tweeledig: om altyd geselskap te hê wat my taal praat en om die reis se verblyf- en vervoerkostes te deel. Só kan ons verder ry, meer sien, eet en drink sonder om heeltyd ons sente te tel en alom 'n ryker ervaring beleef. Ek sorg vir die gesamentlike ry, die bly en wi-fi. Vir die res sorg jy volgens jou eie behoeftes vir jouself, dus eie vlugte, eie visums, eie proviand, eie plaaslike vervoer, en eie toegangsfooie na plaaslike besienswaardighede.

Volgens my navorsing kan jy ná bly en ry afgetrek is, ongeveer R280 per persoon per dag begroot vir alledaags lewe: kruideniersware, drinkgoed, plaaslike vervoer, ingangsfooie na museums en dies meer.  Om dit makliker te maak, het ek 'n omvattende sirkelroete nagevors en uiteengesit wat veral die minder deurtrapte paaie van Europa dek. Waar jy bv. nie noodwendig in die gewemel van 'n kampeerterrein hoef te oornag nie. Waar klein dorpies met lewendige eetplekkies die norm is en waar die beeldskoonheid van die omgewing jou asem wegslaan. Die verruklike fjords van Noorweë, die majestueuse kastele van Duitsland en die ongerepte mere van Finland lê onder meer in my visier.



Die "Tag-Along" saamry konsep is eenvoudig: ek ry vir die duur van die Europese somer in een rigting op ‘n “Grand Circle” roete  (my eerste gedagte: ry ál langs die kus).  Julle kies watter deel daarvan julle wil meemaak, of stel 'n ompad voor wat prakties en uitvoerbaar is. Elke sektor hoort nie langer as 10-14 dae te duur nie, om "kajuitkoors" te voorkom!  Julle kan natuurlik ook besluit of julle langer wil saamtoer, maar vir begrotings- en beplanningsdoeleindes is die minimum 10 dae. Identifiseer dan 'n lughawe op julle gekose roete waarheen julle kan vlieg van Suid Afrika af, want dit is waar ek julle oplaai. Langs die pad bly ons minstens twee dae op 'n plek, hetsy in 'n kampterrein óf ons vrykamp.

Na afloop van die toer laai ek julle weer by die retoerlughawe af van waar julle óf terug huis toe óf na julle volgende bestemming toe vlieg.  'n Eenvoudige voorbeeld hiervan is: vlieg na Münich en ry saam op die roete tussen Münich en Kopenhagen (of Oslo) via Nüremberg, Leipzig, Berlyn en Lübeck. 'n Afstand van ongeveer 1200 km wat ek opdeel in sarsies van 300 km se ry, rofweg elke derde dag.

Met die kennis wat ek as restauranteienaar opgedoen het, is ek ook van plan om my kookvernuf op die proef te stel deur op die kleiner dorpies langs die roete streekkosse saam met plaaslike chefs te kook en dit op video vas te lê vir 'n blog op YouTube, in die gemaklike styl van die bekende TV chef, Rick Stein.


Die lekker van so toer is dat jy hoef nooit self te bestuur nie of ooit te wonder hoe om in die vreemde oor die weg te kom nie, want ek (en my getroue reismaat Google) is altyd byderhand. Wanneer ons op die oop pad is, ry julle saam met my in die kampwa en wanneer ons oornag, is die aparte karavaan julle privaatspasie.  Dit is gerieflik en stylvol toegerus met sy eie kombuis, toilet- en stortgeriewe.  Pluspunt: julle hoef nooit van ablusieblokke gebruik te maak nie!

Ons sal beslis van tyd tot tyd saam inkopies doen of saam braai of 'n skemerkelkie saam drink op 'n pragtige plek, maar grotendeels is jou tyd jou eie.

Om op te som: hierdie is sorgvrye selfsorg op sy rustigste teen 'n breukdeel van die koste om alles op jou eie te doen.  Vir my voorgestelde roetes, lughawens en verskeie koste opsies, stuur gerus vir my 'n e-pos waarin jy aandui watter deel van Europa jy die graagste sou wou besoek en vra gerus vrae! 

My e-posadres is allan@kasteelberg.com

Groete tot ons rendezvous by die lughawe!

Allan
Riebeek Kasteel

No comments:

Post a Comment

Contact information